Profile
Blog
Photos
Videos
Na n heerlike tyd in Frankryk was dit weer tyd vir n nuwe avontuur, Duitsland. Ons het besluit om 'n oornag bus te vat vanuit Reims na Mannheim in die suid-weste van Duitsland. Ons moes die bus net voor 12 uur die aand gekry het by die treinstasie. Probleem nommer 1, dit was vrek koud en probleem nommer 2, die treinstasie was al toe! Daar staan ons toe stoksielalleen met ons rugsakkies en wag! Gelukkig was daar 'n hotel naby waar ons kon koffie kry! Net na 12 sien ek n bus indraai van die hoofpad af maar geen bus by die bus bordjie nie! Toe ek na 5 minute gaan kyk wat aangaan, was die ingangshek gesluit, en die bus staan doer onder en wag... Ek en Alich moes toe met ons rugsakke omhardloop en by n reuse graswal af! Gelukkig het die bus nog nie gery nie!
Ons het by Heinrich en Jani en hul seuntjies, Levy en Luhandre, gekuier (ons vorige bure in Witbank). Hulle het so 3 maande terug Duitsland toe getrek waar Heinrich vir Auldstorm werk. Hulle bly net buite Mannheim in Oftersheim. Na 'n heerlike ontbyt van bier en duitse worse, kase en brode het ons bietjie gaan slaap. So 'n bus rit bly darem maar onaangenaam!
Die aand het Jani se ma wat op vakansie daar was, na die kiddies gekyk en is ons Mannheim toe. Weerens het die duitse bier en gluhwein nie teleurgestel nie. Ons het die stad verken en orals iets gehap. Mannheim is 'n werkende/industriele stad. Dit was ook lekker om vir 'n slag nie in toeriste areas te wees nie. Dus geen chinese met moerse kameras nie!
Heinrich is eintlik 'n chef van nature en kyk, ons was vrek lus vir lekker tuisgemaakte kos. Hy het vark fillets gevul met landejager (duitse wors) en sour craut!! Elke dag het hy 'n lekker Suid Afrikaanse / Duitse dis opgetower. Ook was dit lekker om net te chill en saam Levy Madagascar 1,2 en 3 te kyk.
Ons het een dag Speyer toe gegaan. Dit is 'n tipiese klein duitse dorpie - pragtige argitektuur en ou strate. Ook met 'n paar winkeltjies. En natuurlik het Alecha die kans gevat en heeldag saam Jani geshop. Ons was ook Heidelberg toe, ons het 'n pragtige eeue oue kasteel besoek en net die pragtige stad en riviere aanskou. Dit was ook maar vrek koud, maar gelukkig was daar curry wurst en gluhwein te kry! Moet se Duitse kos is reg na my smaak! Die mense is egter nie! Die jong mense het baie ringe deur hulle neuse en orals studs (die wat ons kon sien)! Ook dra hulle punk haarstyle en lyk oor die algemeen scruffy! En dan kom hulle nog bombasties voor en nie die vriendelikste nasie wat ons al besoek het nie. Dalk kom die Beyerse/Raubenheimer humeure hiervandaan...
Ons was bevoreg om paasnaweek saam met 'n Suid Afrikaanse Christen gesin te kon deel. Baie dankie julle vir die gasvryheid en lekker kuier! Ons sien uit na die kuier in Namibie!!!
Haha, ons trip na Amterdam was omtrent 'n storie. Ons het die snel trein gevat, dit sou ons 4 ure vat met net een oorklim na 'n ander trein. Eerste deel van die roete was pragtig, deur berge en dorpies en orals was kastele! Ons moes in Dusseldorf afklim en op 'n ander snel trein klim, maar op die platform 2 aangekom se hulle toe die trein is 10min vertraag. Wel 4 min later stop daar toe 'n groot dubbeldekker trein en kiepie en sy maaitjie klim vinnig in om bo te sit! Gelukkig kyk Alecha na 'n half uur op die foon se Gps waar trek ons.... Ons is toe in die teenoorgestelde rigting oppad Berlin toe! Ons nagmerrie word bevestig deur die kaartjie meester. Gelukkig werk hy gou vir ons uit hoe om terug te gaan en kon ons gelukkig op 'n ander sneltrein klim.
'n Paar ure later as beplan kom ons gelukkig in Holland aan. Hier moet jy net koes of 'n fiets ry jou om! Orals is fietse! Dink ek het op skool laas 'n fietsloots gesien en hier is duisende fietse orals geparkeer. Hier is paaie vir fietse, paaie vir karre en dan paaie vir die trams! Ons was weer lus vir hostel bly (let wel, met eie kamer en badkamer!). Sentraal gelee naby die 224!
Amsterdam is 'n pragtige stad met 'n kenmerkende boustyl. Sulke lang dun regop huise teen mekaar gebou. Party is skeef gebou, dan is die hele blok skeef! En reg deur die stad is waterwee. Daar is 'n groot hoeveelheid "house boats" waar mense sommer in die bote bly op die water. Lyk nogals lekker. Ons het eendag op n water taxi die stad vanaf die water wee verken.
Die rooi lig distrik was ook 'n belewenis. Om te dink dit is alles wettig en gereguleer. Seker daarom dat dit deesdae 'n toeriste aantreklikheid is. Ook is daar mos klomp koffie shops saam met vars gebak! Haha, hulle mag boom rook binne in die winkel maar moet sigarette buite rook agv die rook wet! Snaakse mense hierdie!
Ons het natuurlik weer iets gaan eet en proe, wat anders as kaas! Hierdie kaaskoppe mag maar kaas maak. Ons het 'n kaas en wyn proe gedoen, maar hierdie keer moes jy die kaas proe en nie soseer die wyn nie. Bokmelk kaas en klomp ou cheddar kase, maar die wenner bly maar die ou glase rooi wyn!
As gevolg van die laat koue hierdie jaar (vrek koud as jy my vra) het die tulpe in die lande nog nie begin blom nie. Ons is toe Keukenhof toe waar daar klomp tuine is en ander in kweek tonnels. Die pragtigste kleure en verskillende tipe tulpe! Alecha het dit baie geniet, dink ons sal maar nog 'n blom pot moet aanskaf!
Hierdie was werklik 'n interessante stad met ons sal definitief terug wees eendag dalk om 'n fiets toer reg deur holland te doen! Hip hip Holland!
- comments
Charlene ek he nie geweet jy hou van skryf nie Charl!!! Is dit een van jou talente wat nou vorendag kom! HA HA