Profile
Blog
Photos
Videos
Na "Thanksgiving", die derde Donderdag in November, ondergaan die stad 'n skielike gedaanteverwisseling met die duisende helder liggies wat oral aangeskakel word, 'n duidelike teken van die naderende Kersgety en simbolies van die vreugde en Ewige Lig waarmee Kersfees veronderstel is om verbind mee te wees. Duisende mense trotseer die ysige weer om die pragtige vensteruitstallings van Lord & Taylor, Bloomingdale's en Macy's te bewonder. Dit is veral by die Kersboom van die Rockefeller Plaza waar die laggende kindergesiggies mens opval en iets van die vreugde van Kersfees in mens se gemoed aanwakker, seker omdat beide kinders en glimlagte nie 'n algemene verskynsel in New York is nie. Die strate en groot afdelingswinkels is 'n miernes van mense wat almal skarrel om hulle Kersinkopies betyds af te handel. Honderde winskopies is beskikbaar, iets wat nie baie moeilik beskikbaar is nie met al die 50-70% verminderings wat aangebied word en 'n duidelike teken van die resessie waarin die Amerikaanse ekonomie verkeer.
Ten spyte van al hierdie uiterlike tekens van Kersfees is daar 'n onrustige soeke binne 'n mens om in hierdie onverdraagsame, ongeduldige stad met sy talle botsende uiterlikes en rasse wrywing die ware boodskap van Kersfees vas te vang. Die bedelende hande van haweloses, die vreugdevolle liggies van Rockefeller Plaza en die doellose gejaag van miljoene laat 'n mens onwillekeurig wonder of dit die wyse is waarop mens Kersfees wil vier.
Onbebewustelik verlang mens na jou moederland en dan besef jy dat daar met 'n Kerfees in New York iets skort - in hierdie helder verligte stad met sy donker hart is daar nie vrede of vreugde nie. Die wonder van Kersfees handel juis nie oor die uiterlike nie, maar oor die lig en vreugde van die Ewige Kersgeskenk wat die mensdom ontvang het.
Ons eerste Kersfees in New York is iets van die verlede en is ons wens dat mense van die Groot Appel in die Kersgetye wat voorle ook die ware betekenis van Kersfees sal ontdek.
Almarie van Niekerk
- comments