Profile
Blog
Photos
Videos
Bali is 'n ongelooflike eiland, dit spel vrede en vriendelikheid uit - net wat ons harte nodig gehad het op hierdie stadium van ons trip. Die mense is eg, die dorpies nog werkend, die toeriste het nog nie als oorgeneem in die deeltjie waar ons was nie.
Ons het in Canggu gebly, in 'n 'homestay' wat ons deur Airbnb geboek het. Die pragtige villa was deel van Sudy, die eienaar, se erf. Die huisie was so mooi, als van hout met daardie kenmerkende Bali houtgrafering in die meubels. En die uitsig - 'n pragtige rysland! Ons het Sudy se kombuis met hom en sy gesin gedeel en selfs een dag saam met die gesin, helpers, oupa en die hele span na 'n deel toe gery waar daar die mooiste ryslande was en ook 'n riviertjie waarin die kiddies gespeel het! Dis die weeklikse Sondagmiddag uitstappie van Sudy en sy gesin. Dit gee mens 'n goeie idee van hoe goedhartig die Balinese regtig is!
Ons het ons eie scooter gehuur vir die week. Wat 'n fees was dit nie om weer onafhanklik te kon rondry nie! Maar dit was ook bietjie stresvol, daar is honderd maal meer scooters as karre en gevolglik honderde scooters orals wat van alle kante af kom en in alle rigtings in beweeg. Niemand stop nie, die robotte tel nie, dis chaos! Ma ons het gou agtergekom die reel is om aan te hou vloei, as jy stop veroorsaak jy verwarring. So ons het reggekom en die scooter ry gate uit geniet! Ekt my ou rooi scootertjie van skooldae so gemis en onthou hoe vry ek gevoel het op hom!
Hierdie week het ons ook besluit om ons liggame te reinig van al die travelkos wat ons al so lank eet (om die waarheid te se, ek kon nie meer een enkele restaurant gereg in my mond sit nie, was so moeg daarvoor). Ons het by 'n vars produkte winkel 'n trollie vol groente en vrugte gekoop en dit was ons kos! Dit was heerlik. Sudy se vrou het selfs een aand ons rou kossies so bekyk, toe slaan sy gou vir ons 'n sop aanmekaar van water, gebraaide uie en knoffel en bietjie groen blare en sampioene. So eenvoudig en so lekker!! Saam met die gesond eet het ek elke dag met die scootertjie na 'n yoga retreat toe gery vir 'n goeie 2 ure sessie op 'n slag. Dit was hemels om weer bietjie te strek en te ontspan. Soos ander mense voel na 'n massage, voel ek na 'n goeie yoga sessie. En dit was nog 'n persoonlike tick - yoga in Bali!!! Charl het dit ook geniet, hy het lekker uitgespan en gelees om die swembad by die yoga retreat.
Na die paar dae in die binneland was ons lus vir die see en het Charl vir ons die mooiste plekkie geboek in Uluwatu, die puntjie in die suide van Bali. Dis ook 'n baie bekende surfer's mecca met die groot golwe daar. Almal wat ons daar ontmoet het, het gevra of ons van Jeffrey's Bay af kom in Suid-Afrika!
Die hele kuslyn in daardie deel van Bali bestaan uit cliffs met honderde, letterlik honderde trappe af na die strande toe. Die lekkerste was om elke dag 'n nuwe strand te gaan soek, hul is nie so bekend nie en een van die waar ons uitgekom het (ook met ons scooter) was omtrent heeltemal verlate. Dit was pragtig, ons gunsteling - ons het vele kere langs die pad gestop en vir locals gevra waar is die ingang na Njang-Njang. Toe ons dit vind, het ons die scooter parkeer in die veld by die hoenders en die kilometer grondpad gestap tot by die magdom trappe. Die view van daar bo af was verruklik - die blou blou see, die rif wat uitsteek so met die laagwater, die wit strand, die grasperk daaragter met beeste wat wei, die palmbome en struike tot op die strand. Prentjie mooi!
Van die ander strande wat ons gaan uitsnuffel het is Echo beach waar daar baie surfers is (die seesand is redelik swart daar en dus glad nie 'n mooi swemstrand nie), Balang-Balang waar dele van die fliek 'Eat, Pray, Love' geskiet is, Uluwatu beach met al sy restaurantjies vol professionele fotograwe en Bingin beach, my 2de gunsteling, weereens prentjie mooi! Dis ongelooflik en terselfde tyd wonderlik dat daar nog sulke mooi strande in die wereld is wat redelik verlate is en nie toegebou is deur hotelle en ander moderne goed nie!!
Na ons gesond eet periode was ons weer lus vir lekker uiteet. Charl het vir ons bespreek by die Bulgari hotel, super smart. Dit was nogal komieklik, ons 2 op ons Scootertjie wat so ewe moet gaan parkeer by al die super smart karre. Hul het ons toe kom oplaai met 'n gholfkarretjie en na die bar toe gevat waar ons heerlike cocktails kon drink terwyl die son sak so oor die see. Weereens was dit so ongelooflik mooi. Ons is toe na die restaurant toe en het ons 'n feesmaal gehad! Sommer 5 gang met die lekkerste seabass en die 'ultimate Nasi Goreng' (dis 'n tipiese indonesiese fried rice gereg, heerlik!). Oor die algemeen was Bali se kos baie lekker en ongelooflik goedkoop (behalwe die aand se uitetery natuurlik!). Ons het geleer waar daar surfers is, is daar baie goedkoop verblyf/homestays en baie lekker, goedkoop kos soos die lekkerste banana pancakes vir ontbyt en vars seekosbraaie elke aand!
Bali was hemels, definitief 'n hoogtepunt van ons trip sover. Volgende gaan ek vir baie langer, doen 'n yoga kursus of twee en stuur ek sommer 'n container vol meubels huistoe!!!
- comments